My wedding vows (In Afrikaans)

My Liewe AV,

My belofte aan jou en voor God vandag is:

Om ‘n man van my woord te wees of moet ek liewer sê ‘n man van Sy Woord?

Dat my ja ‘n ja sal wees en my nee ‘n nee

Dat ek nie sal bang wees om te leer nie

Dat ek braaf sal wees om die seer nie te wil keer nie

Om ‘n leier en ‘n hoeksteen vir ons huis te wees

‘n Man te wees wat altyd die waarheid praat en die huis nooit kwaad te verlaat

Ek belowe ek sal altyd lief wees vir jou maar, ‘n bietjie liewer vir Jesus

Ek belowe dat ek jou altyd sal herinner aan wat hy vir ons aan die kruis gedoen het en hoe ongelooflik lief hy jou het

Ek below ek sal saam met jou hierdie wedloop na die hemel hardloop tot ons nie meer asem het nie.

Ek below ek sal jou hart koester en onvoorwaardelik lief hê, net soos Jesus sy bruid die kerk lief het

Ek belowe ek sal elke dag harder probeer om ‘n beter weergawe van myself te wees.

Om pa te staan vir die foute wat ek maak en man te wees en te herken wanneer ek verkeerd is

Ek belowe dat ek vir jou ‘n stem sal wees wanneer jy nie daar is om self te praat nie

Ek belowe ek sal vir jou veg wanneer jy self nie meer kan veg nie

Ek below ek sal vir jou opstaan en ek belowe ons sal saam staan

In die egte liefdesverhouding is daar nie net vreugde nie maar misverstand en hartseer maar, die liefde is onuitblusbaar!

In liefde is daar geen vrees nie, ons het lief omdat God ons eerste lief gehad het.

1 Johannes 4:18-19

Daarom belowe ek vandag om nie in vrees te lewe nie

Om ‘n man te wees wat braaf genoeg is om sy liefde vir jou en vir God elke liewe dag te wys

Tonne liefde

Jou man

‘n Brief aan my vrou

AB my liefste Bruid,

Ek het vir jare op hierdie planeet op my eie gewandel. Daar was nie ‘n oomblik waar ek geglo het dat ek jou nie eendag sal raak loop nie. Daar was aande wat my geluk wou kom steel maar, dan het ek vir jou gebid en lirieke geskryf, hierdie lirieke het stories geword wat gelei het tot die brief aan my toekomstige vrou. Wanneer ons nou daardie brief en lirieke lees voel dit of ons harte nog altyd op dieselfde ritme klop. Ja ek vergeet nog soms die stoof aan en borsel my tande in die stort. Jou kouse het nou weer nie een hulle pas-maat nie, jy is mal oor hoenderlewertjies en hou niks van worshonde nie (Ons sal nog moet praat oor daardie een).

Ek dank die Here vir die ongelooflike voorreg om jou eers as ‘n vriendin te kon leer ken, ja ons het ‘n stadige begin gehad maar dit het net EEN aand onder die sterre, in die Cederberge, gevat vir ‘n verskietende ster om regdeur ons albei se harte te skiet.

Ek vind myself nog gereeld dagdroom oor jou glimlag, daardie mooi bos hare in die Kaapse-wind en dan die mooiste oë wat regdeur my kan sien. Alhoewel jy die mooiste bruid is wat enige man oor kan droom is dit nie waarom ek verlief geraak het op jou nie. Jou skoonheid strek baie dieper en vêrder as die uiterlike. Dit is die manier hoe jy Jesus se liefde aan almal om jou uitstraal, die mooiste hart, ‘n skatkis, wat ‘n man slegs eenmaal (as hy gelukkig is) in sy lewe vind. Dit is daardie lag wat jy van diep binne af gee as ek een van my “awkward” oomblike beleef, dit is die manier wat jy na my kyk of daardie split sekonde (of twee) wat jy jou oë langer toe hou as ons net klaar gesoen het. Al lyk dit of ‘n orkaan die kombuis getref het maak jy by vêrre die lekkerste kos met geure wat my mond elke keer laat water (Dankie liewe Jesus vir daardie een).

Jy is ongelooflik slim en passievol oor wat jy doen en ek het dit my lewensdoel gemaak om mense mooi te onderig dat jy nie die “Weer meisie” is nie, as ook nie die weer “lees” nie… Jy was een van die jongste meteoroloë in Suid-Afrika wat die weer by eNCA aangebied het, ‘n Wetenskaplike wat AL die weervoorspelling self doen, jip van “scratch” af! Jy bou jou eie shows met al daardie oulike “graphics” agter jou op die skerm en dan bied (NIE LEES NIE) jy dit voor die hele land aan in Afrikaans en in suiwer Engels.

Die feit is, jy is meer as hierdie TV persoonlikheid, jyt groter drome as dit. Drome om terug te gee aan die gemeenskap en om ander jong mense op te bou. Jou identiteit is nie gekoppel aan die weer op TV nie maar aan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Jou liefde vir die Here inspireer en motiveer my, en dit… maak jou absolutely beautiful.

Jy is ‘n “go getter”, ‘n waaghals, ‘n bok vir sports en die beste van als ‘n Grapjas, jou gunsteling tipe jas! ‘n Meer gedrewe vrou sal ‘n man nie kry nie. Jy is wat God sê jy is, jy is waardevol, beeldskoon, waardig, jy is ‘n meesterstuk en ek is ge-eerd om jou langs my sy te kan hê.

The New Living Translation says it best:
The man who finds a wife finds a treasure, and he receives favour from the LORD.
Proverbs 18:22

Ek sien uit om Jesus se liefde aan die kruis saam met jou elke liewe dag vir die res van ons lewens na te jaag. My gebed is dan ook dat ons huwelik ‘n getuienis van God se goedheid en grootheid sal wees want, aan hom kom al die eer.

Tonne liefde

Jou man

This slideshow requires JavaScript.