‘n Brief aan Lente

My liewe Lente,

Pappa skryf hierdie brief vir jou om te sê hoe vreeslik lief ek jou alreeds het. Ouderdom is ‘n snaakse ding, soms voel ek self nog soos ‘n kind, en dan besef ek dat ek nou pa word.

Ons wil nie ‘n sekonde langer wag as wat ons hoef om jou te ontmoet nie. Deesdae, as ons op die bank lê, voel ek jou skop en strek teen jou mamma se maag. Ek kan die vorm van jou klein voetjie met my 2 vingerpunte voel. Dit laat my hart sommer bokspring van vreugde om jou te kan voel.

Ek sit gereeld my kop teen jou ma se maag om met jou te gesêls. Ek moet bieg, ek is nog so bietjie skaam om met jou te praat. Jou ma geniet dit en lag soms vir my. Sy sê ek verander my stem, maar hoe dan nou, ek kan nie net normaalweg met jou praat nie, jy is my mooiste meisiekind.

Ek dagdroom gereeld oor hoe jy gaan lyk en hoe jy gaan wees. Gaan jy ligte of donker hare hê? Gaan jy my neusie en jou ma se lawwe streke kry? Nooit weer gaan ons huis dieselfde wees nie. Nooit weer gaan ek dieselfde man wees nie.

Daar word geprofeseer dat jy “a voice in the dark” gaan hê, dat jy gaan sing met vreugde en hoop in alle seisoene van die lewe, nie net in Lente nie, maar ook as dinge voel of dit swaar gaan. Ek glimlag nog as ek hieraan dink, want nie ek of jou ma kan vreeslik goed sing nie.

My gebed vir jou, my liewe, lawwe Lente, is dat jy altyd sal sing met die vreugde en hoop wat kom van Jesus se liefde vir ons aan die kruis. Daardie liefde is binne ons en binne jou. Jy is werklik ’n geskenk van bo, en dit is vir my die grootste voorreg en eer om jou pappa te kan wees.

Ek vat hierdie “pos” van pa wees baie ernstig op. Ek wil die beste vir jou hê en die beste vir jou wees, al het ek soveel foute. Ek is opgewonde om te sien hoe jy my as man gaan laat groei, en ek is so dankbaar vir hierdie liefde vir jou wat ek alreeds binne my kan voel. Ek sien uit na al die vreugde op ons geliefdes se gesigte wanneer hulle jou vir die heel eerste keer vashou. O liewe Lente, jy is alreeds so geliefd.

Ek belowe om jou mamma onvoorwaardelik lief te hê en te koester. Sy is tog die liefde van my lewe, en sonder haar sou my lewe baie vervelig gewees het. Ek belowe om teenwoordig te wees en die klein oorwinnings saam met jou te vier. ‘n Skouer om altyd teenaan te skuur.

Ek raak soms bekommerd oor die toekoms en wat in die wêreld om ons nou aangaan. Die wêreld is mal my kind… maar dan kry ek weer nuwe hoop en rustigheid van bo af dat jy gebore is vir ’n tyd soos hierdie. Mag jy dit altyd onthou, Jy, Lente Botha, is gebore en bestem vir ’n tyd soos die hede.

Ek is lief vir jou, my Lente blom. Mag die geur van jou bloeisels ‘n spoor van vreugde en geluk agterlaat. Mag jou lig helder skyn en jou stem hoop versprei.

Tonne Liefde

Jou Pappa

Leave a comment