KWESBAAR

Roomyswit wolke lê dig op die horison versprei en vir ‘n oomblik lyk hierdie kronkelpad, asof dit ons reguit na die hemel toe vat.

Terwyl ons ry sweef daar wit duiwe in die lug verby. ‘n Blik in jou rigting en jou breë glimlag laat my besef ek voel weer gereed om kwesbaar te wees.

Stadig maar seker maak ons spasie vir mekaar in ons volgepakte borskastasse. Twee harte wat eers gekneus was is nou besig om te genees. Jy blaai die bladsy van die boek wat jy lees om. Ek glimlag en dink, ons storie is my gunstelling!

My gedagtes loop draaie, maar die waarheid is dat ek lank genoeg op my eie was… die waarheid is dat hierdie pad nog lank is. Vêr gery en moeg gesit, kom ons draai die ruite af en laat die wind jou hare deurmekaar waai. Met die geure van die veldlelies en gras in die lug oorreed jy my om te stop.

(Ons klim uit)

Jy hardloop kaalvoet en laggend die veld in, plat op jou rug vind ek jou in die skadu van ‘n groot ou boom. Jy laat my hardop lag, jy is my gunsteling avontuur. Ek verwonder myself aan hoe gemaklik ons saam is, veral as jy met my stry, oor die prentjies wat ons in die wolke kry.

Die seer is in die verlede, ons het mekaar belowe, ons ken mekaar, ons kan maar spog met ons rowe. Dit voel so goed om weer te kan belowe.

Die roomyswit wolke op die horison smelt, toe ek vir jou saggies fluister : “Ek wil jou elke dag soengroet!” Jy antwoord laggend met ‘n ondeunde lig in jou oë “… en nog ander goed”.

(Ek trek jou nader)

Vir ‘n oomblik lyk hierdie kronkelpad asof dit ons reguit na die hemel toe vat… en ek weet ek weet ek is weer gereed!

Ons reis na mekaar duur voort… Met ‘n kattebak propvol van jou bagasie terg ek jou oor die min spasie.

‘n Diamant kombers van stadsliggies lê dig versprei toe ons oor die berg die stad in ry. Vir ‘n oomblik in die stilte kon ons mekaar se harte op dieselfde ritme hoor klop en dit laat ons weer hoop in ons drome stop.

Sy aan sy ry ons die nag in, net ons twee. Met jou kop wat saggies teen my skouer rus weet ek, ons was nog altyd vir mekaar die een.

Stadig maar seker maak ons spasie vir mekaar in ons volgepakte borskastasse. Twee harte wat eers gekneus was is nou genees. Ek is gereed, is jy gereed om weer kwesbaar te wees?

 

76600.max1024

“Maybe it wont work out. But maybe seeing if it does will be the best adventure ever.”

One comment

  1. Wynand · May 29, 2017

    Goeie werk ouboet, sterkte met jou avontuur.

    Liked by 1 person

Leave a comment